Slide background
Slide background

Transforming Society

Securing Rights

Restoring Dignity

Vra die regte vrae

Transformasie aan universiteite is nie ’n blote kwotastelsel sonder ’n uitkomsgebaseerde fokus wat uiteindelik tot die uitsluiting en die verlaging van standaarde sal lei nie, skryf adv.

Beeld 23 Jun 2018André Gaum.

’NOnlangse hoofartikel in Beeld stel vrae aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) oor dié se verslag voor die parlementêre portefeuljekomitee oor hoër onderwys en opleiding.
Kortliks vra die hoofartikel of die MRK transformasie slegs sien as die lukrake toelating van studente en aanstelling van dosente om bepaalde getalleteikens te bereik; en of die toenemende druk deur universiteite op dosente om voorgeskrewe slaagkoerse in die nasien van eksamenvraestelle te handhaaf, ondersteun word.
Voorts word gevra hoe die MRK beoog om menseregte deur transformasie aan universiteite te bevorder, en wat die MRK se plan is om die mislukkings van transformasie te voorkom.
So kom ons praat oor transformasie by universiteite, maar deur na die feite te kyk.
Die realiteit is dat armoede en die voortdurende sosiale, ekonomiese en geografiese ongelykhede in ons land voortgaan om gelyke toegang tot hoër onderwys, studente se geleenthede om sukses te behaal en sosiale integrasie te kniehalter.
Sedert 1994 het die getal studente wat in staat was om toegang tot hoër onderwys te bekom, verdubbel. Die demografie van sowel studente as dosente is aan die verander, maar die gapings betreffende deelname- en sukseskoerse van swart, bruin, Indiër en wit studente hou stand en raak selfs groter. Wit mans beklee steeds die meeste van topbestuurs- en senior posisies aan universiteite, hoewel minder senior posvlakke begin om demografiese veranderings (en só onder meer ras- en geslagsdiversiteit) beter te weerspieël. Die verteenwoordiging van mense met gestremdhede bly egter besonder laag.
Onderwys van lae gehalte
Die voorkoms van sekondêre onderwys van ’n lae gehalte is steeds ’n sleutelhindernis. Hieroor swyg die MRK se verslag beslis nie soos die hoofartikel suggereer nie.
Die realiteit is dat skole van arm sosiaal-ekonomiese of afgeleë plattelandse areas die swakste presteer. Armoede hou steeds grootliks met rasseverdelingslyne verband, terwyl toegang tot selfs basiese onderwys ’n groot uitdaging vir leerlinge met gestremdhede bly.
Basiese onderwys oor die algemeen is nie naastenby deur die bank op peil nie – nie eens die grondslag daarvan, synde behoorlike geletterdheidsvaardighede by leerlinge teen die tyd dat hulle gr. 4 bereik nie. (Michael le Cordeur skryf dit in ’n onlangse artikel, myns insiens korrek, onder meer toe aan die gebrek aan moedertaalonderrig vir minstens ses jaar van ’n kind se lewe, maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag.)
Dié faktore is ’n werklikheid en het onteenseglik ’n onlosmaaklike impak op toegang tot en sukses in die hoëronderwysstelsel.
Histories benadeelde universiteite ervaar voortgesette finansiële druk en die vraag na studentehuisvesting is baie groter as die aanbod. In sekere gevalle plaas die toedeling van koshuise aan studente oormatige klem op akademiese prestasie – wat ’n negatiewe impak het op studente uit ’n arm sosiaal-ekonomiese agtergrond wat nie private huisvesting kan bekostig nie.

Institusionele kulture

Maar meer nog verg transformasie ’n ondersoek na die diep gesetelde institusionele kulture van universiteite.
Die talle studentegeleide betogings aan universiteite het nie slegs oor finansiële toeganklikheid gegaan nie. Aan die hart van die bewegings lê die behoefte om die voorkoms van ’n omgewing van vervreemding op te los, wat deur geïnstitusionaliseerde vorms van rassisme, patriargie, xenofobie en ander vorms van diskriminasie onderskryf word.
Terwyl demografiese transformasie dus die eerste stap kan wees, is die hantering van die meer genuanseerde vorms van diskriminasie, wat deel van alledaagse praktyke en opvattings uitmaak, van kernbelang om werklike transformasie te behaal.
So om dan die vraag in die hoofartikel te beantwoord – nee, transformasie was nog nooit slegs gegrond op ’n stelsel wat getalle dryf nie.
Dit is waar dat die transformasiebeleid soms as ’n tick-box-oefening toegepas is met die fokus op kwantiteit en minder of min klem op die kwaliteit van uitkomste wat bereik word, maar dit moet nie so wees nie.
As transformasie gelykheid suksesvol moet bevorder en historiese wanbalanse moet regstel, moet die beginsels van gelyke toegang en gelyke uitkomste met mekaar verbind word.

Tegelyk gaan transformasie oor die verskuiwing van menseregteonvriendelike oorheersende denkpatrone en die aftakeling van ingewortelde vorms van vooroordeel en diskriminasie.
Die antwoord op die hoofartikel se vraag oor hoe menseregte deur die bevordering van transformasie bevorder kan word, is eenvoudig.
Die versekering van gelyke toegang en sukses staan sentraal tot bemagtiging en armoedeverligting, so ook om te verseker dat diversiteit die eerste stap is om verskillende sienings en opvattings te bevorder wat nodig is om die bestaande sosiale dinamiek, gedragsvorms en vooroordele uit te skakel. Transformasie is nie maklik of eenvoudig nie. Dit is ’n komplekse, verwikkelde, veelvlakkige en lewende proses. Dikwels gaan dit met probeerslae en mislukkings gepaard. Daar is dus gevalle waar dit misluk het, waar die proses oop was vir misbruik. Maar dit negeer nie die essensiële rol van transformasie nie om ’n wesenlike breuk met die ontmagtigende en voortgesette nalatenskap van die verlede te bevorder.

In dieselfde asem help dit nie om mislukkings telkens aan ’n leerproses toe te skryf nie. Dalk moet ons die relevante vrae vra. Het transformasie aan universiteite verder gevorder as ’n beleids-en-teikenbereikingsoefening tot ’n proses wat werklike verandering kan dryf? En verstaan die sektor werklik wat transformasie beteken sonder om slegs op definisies en kwantitatiewe aanwysers staat te maak?
Talle universiteite erken steeds nie seksuele teistering en geslagsgegronde geweld as fundamentele menseregtekwessies nie, of laat na om van bestaande xenofobiese ingesteldhede kennis te neem.

’n Houtoog word steeds in die naam van tradisie gedraai na afbrekende inisiasiepraktyke, en waarom het ons ná soveel jare steeds ’n debat oor die aanvaarbaarheid van slegs Afrikaanse koshuise?
Daar is ook die oënskynlike wanopvatting aan universiteite dat hoër onderwys slegs transformasie bevorder as dit oorwegend of algeheel van Engels as leer- en onderwystaal gebruik maak.
Die MRK het daarom juis voorgestel dat inheemse tale, onder meer deur vertalingsdiense aan universiteite, hul geregverdig bemagtigende plek moet inneem.

Daar behoort ook, waar van toepassing, van studente vereis te word om inheemse taalkursusse te volg, en universiteite moet in hul taalbeleid vir mense met gestremdhede voorsiening maak.
Die hegemonie van Engels as universiteitstaal kan dus ook anti-transformatief wees – dalk juis vir byvoorbeeld die Universiteit Stellenbosch om te oorweeg gegewe die talle en talle histories benadeelde (dikwels arm) hoofsaaklik bruin, Afrikaanssprekende potensiële studente in die Wes-Kaap. Vir hulle is Engelse hoër onderwys in baie gevalle sonder meer ontmagtigend.
Is genoeg vordering gemaak?
Dalk is die stadige vordering met transformasie te wyte aan die gebrek aan ’n universele begrip van wat transformasie werklik inhou, of dalk het dit met ’n gebrek aan ’n institusionele wil te make.
Die vraag is dus nie of transformasie aan universiteite plaasgevind het nie, maar eerder of universiteite ver genoeg daarmee gevorder het, en wat steeds gedoen moet word.

Die hoofartikel het reg – die MRK het nie ’n allesomvattende plan om die mislukkings van transformasie aan universiteite te voorkom nie, maar dit is ook nie sy rol nie, en daar bestaan geen eenvormige oplossing vir alle universiteite nie.
Die waarheid is dat terwyl sekere sektorwye riglyne en prestasiemetingsaanwysers ontwikkel kan word, het elke instelling, elke kampus selfs, ’n eie, unieke en diepgesetelde kultuur, met eiesoortige uitdagings wat oor die jare ontwikkel het.

Uiteindelik lê die verantwoordelikheid vir standhoudende en wesenlike transformasie nie by enige enkele entiteit nie.
Die staat het ongetwyfeld die verpligting om te verseker dat voldoende riglyne, toesig en verantwoordbaarheid daargestel word, maar die verantwoordelikheid om instellings te transformeer lê by die instellings self, en dit beteken ’n verantwoordelikheid betreffende die bestuur, werknemers, alumni asook die studente.
Om transformasie dus voor te hou as ’n blote kwotastelsel sonder ’n uitkomsgebaseerde fokus, wat uiteindelik tot uitsluiting en die verlaging van standaarde sal lei, is nie korrek nie en onverantwoordelik. Kom ons vra die regte vrae oor transformasie.

Gaum is die MRK-kommissaris verantwoordelik vir die reg op onderwys.

Bron: Beeld

The South African Human Rights Commission.

Follow the SAHRC

About us

The Human Rights Commission is the national institution established to support constitutional democracy. It is committed to promote respect for, observance of and protection of human rights for everyone without fear or favour.

Braampark Forum 3, 33 Hoofd Street, Braamfontein

011 877 3600 (Switchboard)

Sign- up for our monthly Pfanelo newsletter